OPSKOPPERSTOER 2019

Op 27 Augustus vertrek die Rooibus met 58 baie opgewonde Opskoppers en Awie agter die stuur op die Hugenotetoer. Heidelberg is die eerste stop vir koffie en die biltongwinkel doen ook flink sake. By Van Loveren Wynkelder word wyn geproe en gekoop en daarna middagete geëet in hul restaurant. Nadat almal by Goudini Spa in hul huisies ingedeel is, word daar uitgepak, geswem, gesels en gekuier. Vir aandete word daar, by gebrek aan oonde, deur Gawie en die braaispan, bobotie gebraai!! Harde, warm werk, maar die eindproduk, heerlik! Intussen leer die toerlede, onder leiding van Gerhard en Gerrie, mekaar beter ken.

Gerrie begin dag 2 met die eerste van die reeks, Vier belangrike vrae in die Bybel, naamlik ‘Waar is jy?’ Na n heerlike ontbyt in die restaurant vertrek ons na Franschhoek. Die eerste besoek is aan die baie interessante Hugenote Museum en-Monument. Daarna kom la Motte aan die beurt. Ons besoek die Kunsgallery met die indrukwekkende permanente Pierneefuitstalling, drink koffie en stap deur die tuin met die pragtigste beelde. Middagete is by nog n pragtige wynplaas, Vrede en Lust en daarna vat ons die pad terug Goudini toe. Daar word weer geswem, gekuier en gerus. Aandete is n heerlike braai en daarna word daar konsert gehou!!

Dag 2 word weer deur Gerrie begin met die vraag, ‘Waar is jou broer?’ Ons gids vir die dag, Ina-Mari sluit by ons aan en ons ry Paarl toe oor die pragtige Du Toitskloofpas. By die imposante Toringkerk kry Martie kans om die orrel bietjie te leer ken, terwyl ons ander die gebou en tuin bewonder. Na pragtige orrelspel behandel Gerrie die vierde vraag, naamlik ‘Wie, sê julle, is Ek?’ en daarna bedien hy aan ons Nagmaal…wat n  belewenis!

Ons ry daarna deur die hoofstraat van die Paarl en deurentyd kry ons die interessantste inligting en oulikste staaltjies van Ina-Mari. By die Taalmonument verduidelik sy die geskiedenis en betekenis daarvan en is daar hoendervleis-oomblikke as die toerlede saam sing onder die hoë suil waar die akoestiek ons klomp na n wafferse koor laat klink!

Die afsluitingsete is by Die Opstal. Ons word eers ontvang met n glasie vonkelwyn en die mooiste uitsig en sonsondergang. Daarna word die allerheerlikste kos en wyn bedien. Gerhard en Ronel Steenkamp, die toerorganiseerders, Gerrie en al die ander helpers vir en op die toer word behoorlik bedank.

Vrydagoggend sluit Gerrie die reeks vrae af met die derde vraag, ‘Wat is U naam, wie is U?’ Na ontbyt vertrek die Rooibus op die terugtog. By Montagu word droëvrugte en neute gekoop en by die Heidelberg Hotel eet ons die laaste ete van die toer. Net voor 5 Vrydag, 30 Augustus, stop ons by die kerk in Mosselbaai na nog n heerlike, geslaagde Opskoppertoer.

Aan Hom al die eer!