NUUS

PELGRIMSTOG VAN HOOP in die Tuinroete

‘n Besondere groep ouens het die stapskoene aangetrek en van Uniondale se kerk tot by die st. Blaize ligtoring in Mosselbaai gestap. Dis 250 km en het 11 dae geneem, bietjie meer as 20 km per dag.

Wat laat mense so ‘n roete stap? En wat is ‘n Pelgrimstog? Wel, sommige stap om net in die pragtige natuur te kom, ander t.w.v. ‘n seisoen of fase in hulle lewe, of om af te sluit of uit te sorteer. Ander stap t.w.v. die spirituele – om net weer diep hulleself en God te vind. Die bonus op die roete is nuwe plekke en mense wat jy net te voet sal ontdek.

Die interaksie en verhoudinge in die groep wat stap, verryk en vorm jou natuurlik ook. In die groep op die foto is Frederick Marais wat in 2014 met sy dogter in Spanje gaan stap het en toe begin droom het oor ‘n pelgrimstog in SA. Erns Grundling (van “Elders” faam) het saamgestap, en Petrus Carstens, predikant by Uniondale en Phillip Herholdt, ‘n afgetrede ouditeur en Le Roux Schoeman, redakteur van die Kerkbode (NG kerk koerant). Fanie Herholdt, afgetrede predikant by Jan Kriel instituut, het die ondersteuning gedoen. Ds Gert Nothnagel van Herholdt gemeente was die ou met die droom en Gerrie van Deventer het die laaste dag van Grootbrak tot Mosselbaai saamgestap en die ouens hier verwelkom.

Die stap van die Karoo na die see, oor die Swartberge, Kammanassie- en Outenikwa-berge, verby historiese plase en die kontak met die mense en geskiedenis van die omgewing, maak dit die moeite werd. Die visie is om stadig groepe te neem en die roete stelselmatig te ontwikkel. As ‘n mens stap, is daar HOOP, sê Frederick.

BUITELUG KERSDIENSTE

Die NG Moedergemeente dink en leef gewoonlik bietjie buite die boks – die keer buite die kerkgebou! Ons het ʼn tradisie van gesinne, families, en vriende wat op Kersdag van oral, o.a. van karavaanparke en vakansieplekke af na ons kerkgebou en klipkerk instroom om ons dienste by te woon. Dan word lekker gesing en die Christuskind herdenk en ruim bygedra vir ons Aksie Samaritaan wat sowat 30 gesinne versorg. Daar word gewoonlik ook etes gebring vir die Streetwise for Jesus projek wat vir sowat 500 mense ʼn kersete uitdeel.

Covid-19 perk ons hierdie jaar in. Ons Streetwise projek stel ons uit na 2021. Die Evangelie laat hom egter nie inperk nie. So, ons gaan BUITELUG DIENSTE aanbied. Ons gaan vanaf die ou pastorie (gemeentehuis) met drie Kersdienste (6:30, 8:00 & 9:30 – ai, net 250 mense per geleentheid) heerlik Kersfees hou. Bring eie kussings en komberse om op die trappies rondom die gemeentehuis te sit of bring julle eie kampstoele om oral in ons tuine jouself veilig tuis te maak. Dan hou ons vanjaar Christusfees op ʼn unieke manier en dra steeds by vir Aksie Samaritaan se gesinne.

Mense kan ons kantoor bel (044-691 2465) of aanlyn inskryf (https://ngmosselbaai.co.za/toegang/)  kliek op Erediensbywoning. Die nodige protokol en sanitasie sal by twee ingange wees: voor in Kerkstraat en agter in George Weg.  Ons vra natuurlik ook die handhawing van sosiale afstand en die dra van maskers gedurende die dienste. Ons glo tog buitelug ventilasie verminder die risiko en ons hoop dat almal veilig op die manier Kersdag sal vier.

Ons hoop dat Christus ook HOOP sal bring op die 2020 Kersdag!

IMG_7180

“Ons het so baie om dankbaar voor te wees. Ons Vader roep ons om ons oorvloed te deel met mense wie se lewens omgekeer is na die oorstromings in Mosambiek”. So sê ds. Henri Meyer van die Mosselbaai Moedergemeente, terwyl hy in die verte tuur. Want hierdie avontuuurlustige is al weer op pad na ’n nuwe avontuur, om die roepstem van God te gehoorsaam, met die doel om ander te help. Hy word vergesel van sy seun, Lemar en ‘n ondersteuningspan van twee, wat vir die logistiek verantwoordelik is.

Hierdie keer is dit ‘n fietsrit vanaf Thabazimbi, doer vêr in Noordwes, verby Ventersdorp, Kimberley, Victoria-Wes en Beaufort-Wes tot in Mosselbaai. Altesaam 1391 kilometer, van 8 tot 15 September; dit beteken dat elke dag in die omgewing van 200 kilometer gery moet word. Die geld wat ingesamel word, gaan na die gemeenskap in Chimoio, hoofstad van die Manicaprovinsie in Mosambiek. Na die vloede en oorstromings vroeër vanjaar is hierdie mense se gehuggies en gesaaides weggespoel. Hulle het nie dakke oor hulle koppe of kos om te eet nie en is van aalmoese afhanklik. Die sendeling, Alfons Domingo, moet sy mense bemoedig, maar kry self ook swaar.

Henri het in die afgelope paar jaar reeds duisende rande met sy avontuurlike ondernemings ingesamel. Daar was al twee fietstoere, vanaf Secunda na Mosselbaai en die Twee Oseane Fietstoer vanaf Paternoster tot by Port Shepstone. Hy het al aan die Cape Epic deelgeneem en die Otter Wandelpad in een dag kafgedraf. Daar was ook die uithourit om in een dag van Kaap Agulhas na Mosselbaai te ry (ongeveer 300 km in 14 uur). Met hierdie geleenthede is daar vir die sendelinge en sendingprojekte van die gemeente fondse ingesamel.

Daar was ook ’n fietstoer vanaf Clarens in die Vrystaat na Mosselbaai, sowel as die uitdagende TransPireneë Bergfietsrit in Spanje  om geld vir die gemeente se jeugbediening in te samel.

Ons kan getuig hoe wonderlik gemeentelede en borge vir hierdie pogings bygedra het en hoop en vertrou dat dit hierdie jaar weer die geval sal wees. Die hulp van gemeentes langs die pad, wat gratis verblyf en etes beskikbaar stel, word ook hoog op prys gestel.

Die aankoms (vanaf Oudtshoorn) word beplan vir net na die oggenddiens op 15 September 2019 om 10:00. Vir navrae kan Henri geskakel word by 083 455 6940.

Marie van Nierop

Mosselbaai NG Moedergemeente groet Bessie Badenhorst

Op 9 Desember 2018 het Mosselbaai NG Moedergemeente afskeid geneem van hul skriba van 19 jaar, Bessie Badenhorst, wat einde Desember aftree. Vir baie kleingoed was Tannie Bessie hulle eerste “Sondagskooltannie” by die Borrelklub. Sy is die tannie wat groot en klein tydens kindertyd by die erediens met Bubbbles, die handpop, vermaak en lewenslesse geleer het. Sy is ook die alomteenwoordige hand wat Sondae die liedere wat gesing word, op die flitsbord laat verskyn. Hoeveel kerkraadsnotules sy oor die jare geskryf het, is onbekend.

Joe Slovo gemeenskapskerk voltooi

Drome word waar!

Ongeveer 10 jaar gelede het ‘n versoek by die Sendingbediening van Mosselbaai NG Moedergemeente beland, waarin ‘n groep van 13 geestelike leiers van huiskerkies in die Joe Slovo-woonbuurt in Mosselbaai pleit vir ‘n kerkgebou. Op kort termyn is klere, komberse en voedsel aan die leiers oorhandig. Op mediumtermyn is honderde Bybels in Xhosa en Engels voorsien.

DAGBREEKBYEENKOMS OP SANTOS STRAND – 21 April

“Christus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!” Dis hoe gelowiges die ou Paassondag groet Sondagoggend met sonsopkoms om 6:59 op Santos laat hoor het! Gelowiges van verskillende gemeentes, onder die inisiatief van NG Moedergemeente, in samewerking met Vida Nova en VGK gemeentes het die Opwekking van Christus met liedere en die musiek van die see en brekende branders gevier. Ds. Gerrie het ’n kort boodskap uit Joh. 21 gebring oor Christus se eerste verskyning na Sy opstanding op die strand, waar Hy sy dissipels met vis en brood verwelkom het en die wonder van die 153 vis in die nette bewerk het.  Hoffie Brazel het die sonsopkoms met shofar aangekondig. Hierdie was ’n baie inspirerende ervaring vir die paar honderd wat dit bygewoon het.