GEMEENTE BLOG

‘n Bergreis

Ons moes die inperking breek. En wat is beter as om die pad te vat. Op pad na die Karoo nasionale park verwonder ons ons weer aan Meiringspoort se plooiingsgebergtes. ‘n Witkruisarend vlieg met sy pragtige wit kruis sigbaar in die skeur van die Nuweveldberge en laat ons na ons asems snak. Maar dis die terugreis en die asemrowende uitsig in die Swartbergpas wat ons stom laat oor ons kleinheid en Sy grootheid.

Dit laat my toe dink aan Ps 121:1-2 “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” 

Ek dink aan Koos vd Merwe se gedig “Alom”

immer oral, altyd u
ver en naby, alom u
u in die hoog, en u in die ver
u in die skyn van die verste ster
u in die naby, u in die nou
u in die oomblik wat hier ontvou
immer oral, altyd u
ver en naby, alom u

Gerrie van Deventer

Dis moeilik om uit Lockdown te kom…

Hoekom is dit so moeilik om uit lockdown te kom.  Ons smag dan al so lank daarna.  En nou, nou dat ons kan uitkom, nou sukkel ons.  Hoekom? 

Daar is so baie onsekerhede.  As ek nou weer na ’n restaurant kan gaan, hoe gaan dit dan werk?  Gaan ek met my masker aan moet eet?  Kan mos nie.  Ag nee wat; ek bly maar eerder by die huis.  Dis makliker, en dan, dan stel ek nie myself en ook nie ander mense bloot nie.  Wat van die arme kinders in die skool, hulle moet die heeldag met maskers aan sit by die skool.  En dan, dan sê hulle as jy bo sestig is, dan is dinge eers moeilik vir jou.  Ek vat maar eerder nie kanse nie.

Onsekerhede is besig om ons lewe te regeer.  Onsekerhede, maak allerhande vrese in ons wakker.  Wat van dit en wat van dat?  Ek wil so graag hê ons moet weer begin kerk hou, maar daar is so baie onsekerhede.  Gaan ons nie die mense blootstel aan die virus nie.  Sê nou net ek maak iemand siek.  Of miskien kom ek nie al die reëls presies na nie en dan stop die polisie ’n reuse boete in my hand.  Ek hoor jy kan selfs tronk toe gaan.

Dit laat my dink.  Waarvan is ek nou eintlik seker?  Op hierdie aarde is daar maar min.  Maar, van een ding is ek baie seker.  God is in beheer.  Ek gaan by Hom in die hemel wees eendag.  Niks kan my van sy liefde skei nie.  Hy is my Herder.  Hy sal my lei.

Miskien moet ons op hierdie sekerhede fokus.  Die “wat asse” van die lewe, sal my klaarmaak. 

Vader, ek is soooo seker van U liefde, vir my en almal rondom my.  Vader my lewe en die lewens van my geliefde gemeente is mos in U hande.  U sê mos in Psalm 23 “in U hande is ek veilig…”. Vader help my om op die sekerheid van U teenwoordigheid in my lewe te fokus.  En nie op die “wat asse” van hierdie lewe nie…

Onvergenoeg

Vandag is dit al 85 dae vandat ons almal gehoorsaam aan ons president se pleidooi onsself toegesluit het. “Social distancing” het hulle dit genoem – maar ek besef dat die skep van afstand, nie net tussen jou en vriende/familie was nie. Daar is ‘n klomp goed in myself wat ek ook van moes afstand neem, met spyt. En in dié se plek het nuwe goed deel van die dag en week se ritme gekom – gedwonge.

Ek onthou vir ‘n oomblik die lewe drie maande terug. Waag ek sê dit was darem baie makliker tóé as nóú?

Aanvanklik het ek mos gedink die digitale wêreld is wonderlik! Vergaderings uit die gemak van jou eie huis (soms net ‘n ongemaklike hemp en baadjie bo aan, met jou slaapbroek en pantoffels onder wat jou lyf met bekendheid sagkens omkleef), mense sien mos net wat jy wil hê hulle moet sien op ‘n skerm. Almal spog oor hoe doeltreffend die digitale wêreld hulle vergaderings en kantoor opset gemaak het. Geld is immers tyd.

Ek wonder maar sterk of ons romantisering daarvan nie maar net ons Suid-Afrikaners se oorlewingsmeganisme was nie, dalk die wêreld s’n, wie weet?

Want iewers in my is daar ‘n gemis wat al hoe groter raak. Dis ‘n bok in ‘n strik wat al hoe wilder spartel, en hoe wilder die spartel, hoe meer verstringel gedagtes en sny die werklikheid deur vel, spier en sening tot teen die been – die werklikheid van wie ek is. “Ons is tropdiere”, sê my kollega altyd. Ons bly binne-in verhoudings – dis die been, die geraamte, wat my siel aanmekaar hou – en dit kan geen skerm, niks Zoom, WhatsApp of YouTube-kerk regkry nie.

Dis wie ek is: ‘n mense-mens. En nou sit die mense-mens heeldag agter ‘n skerm. Onvergenoeg.

Reg, ek sou die besigheidswêreld gelyk gee dat skerms tyd koop. Maar dit steel my verhoudings, en daarom steel dit my vreugde, en daarom steel dit ook my lewenssin. Skerms het ons verhoudingshonger gelos, nie meer doeltreffend gemaak nie.

My gedagtes dwaal na God toe. Hoe sou Hy voel oor mense wat doelbewus die verhouding met Hom opbreek? Los dit Hom ook verhoudingshonger … Hom ook dalk onvergenoeg?

Dalk is daar baie groter sin daarin om aandag aan my verhouding met God te gee. Hy het nog altyd ook vir my lewenssin gegee, dit op my laat reën met Sy Gees as droogte my siel uitput.

6Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug.” Psalm 62:6-9

WAT IS NOODSAAKLIK?

Wat het ek/’n mens nodig? Dis die vraag waaroor ek wonder toe ek die “Kosboks” in die Spar sien. ‘n Boks waarin mense oor die laaste paar weke soveel “nie-bederfbare-produkte” soos meel, rys, blikkies bone, vis en vele meer gedeponeer het. Kospakkies is opgemaak sodat baie gesinne wat nie “kos” op die tafel gehad het nie, kos kon kry. Ek kyk na die ry kinders wat by Sanet se sopkombuis staan met ‘n bakkie in die hand en wonder: wat sou hulle nog nodig hê?

Die woord “essential services” is op baie maniere vertolk in die afgelope 76 dae. Dit het veral te doen gehad met mense se behoeftes aan gesondheid en aan kos né! Mettertyd het dit tog begin deurskemer dat mense ook ander “noodsaaklike behoeftes” het. Mense het behoefte aan mekaar, geselskap, aanraking, liefde. Mense het sosiale behoeftes, het behoefte aan werk en inkomste, aan ‘n gevoel van waarde en betekenis. Maslow het gesê ‘n mens het die volgende behoeftes: fisiologiese behoeftes (gesondheid, kos, slaap), veiligheid, om te behoort (liefde, affeksie, aanvaarding), erkenning en selfaktualisering.

Ek het gehoor van mense wat alleen in intensief moes lê sonder kontak met familie en nog erger – van mense wat in eensaamheid in ‘n hospitaal moes sterf en gewonder: was fisiologiese versorging al wat hulle toe nodig gehad het?

En toe sê die president op 27 Mei dat godsdiens en die kerk tog deel van die noodsaaklike dienste is, noodsaaklike pastorale sorg verleen, mense ondersteun en in krisisse help ens.

Toe dink ek aan Jesus se woorde: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat 4:4) en veral Sy stelling “Ek is die brood wat lewe gee” (Joh 6:35). Ons moet dus weer dink oor die vraag: Wat het ‘n mens regtig nodig?