NUUS

Mosselbaai NG Moedergemeente groet Bessie Badenhorst

Op 9 Desember het Mosselbaai NG Moedergemeente afskeid geneem van hul skriba van 19 jaar, Bessie Badenhorst, wat einde Desember aftree. Vir baie kleingoed was Tannie Bessie hulle eerste “Sondagskooltannie” by die Borrelklub. Sy is die tannie wat groot en klein tydens kindertyd by die erediens met Bubbbles, die handpop, vermaak en lewenslesse geleer het. Sy is ook die alomteenwoordige hand wat Sondae die liedere wat gesing word, op die flitsbord laat verskyn. Hoeveel kerkraadsnotules sy oor die jare geskryf het, is onbekend.

Dit is sy wat in die dae toe die gemeente nog Maandagaande ‘n sopkombuis vir die haweloses bedryf het, sonder huiwering ingestem het om ‘n pot kos vir ongeveer 30 mense te kook. En dan is sy ook die persoon wat die instelling gevestig het om op Kersfeesdag kos in te samel vir minderbevoorregtes in ons dorp. Van vroeg in Desember af word bakkies reeds beskikbaar gemaak sodat gemeentelede en vakansiegangers op Kersdag ’n ekstra bord kos kan inskep om kerk toe te bring, sodat dit onder hulpbehoewendes in en om Mosselbaai versprei kan word.

 Bessie is veel meer as die vriendelike en hulpvaardige stem in die kerkkantoor. Sy het in 2017 die Coram Deo-beradingskursus van twee jaar voltooi en wil graag kleingoed in nood help met die vaardighede wat sy tydens hierdie kursus geleer het. Sy is ‘n kankeroorwinnaar wat na haar genesing vir oefening begin stap het en tans nog gereeld aan halfmarathons deelneem. Tien Twee Oseane-marathonne later is sy nog lank nie klaar met die bulte van die Kaap nie. Sy weet van val en opstaan, van beserings en herstel, van vasbyt en nie moed opgee nie. Enkele jare gelede het Bessie en drie vriendinne die Camino, die Pelgrimspad van Jakobus, in Spanje gestap en haar hart droom oor nog ’n Camino.

Sy is lief vir musiek, bespeel die kitaar en het tot onlangs nog klarinetlesse geneem. Saam met Peet, haar man, het sy  in Mosselbaai se dorpskoor gesing en sing tans in Hartenbos se kerkkoor. Elke jaar met die kerkbasaar bak sy talryke vlakoeke. Sy is kunstig met die naald en maak die wonderlikste lapspeelgoed – elke jaar tydens die Kersmark is haar skeppings sommer vinnig uitverkoop.

So wat wag nou vir “Tannie Bessie”? Hopelik ‘n bietjie meer tyd om te stap, om te lees. Hopelik ’n bietjie meer tyd saam met Peet. Wees verseker dat ons jou nie maklik gaan vergeet nie, Bessie. Jy is die vrou waarvan in Spreuke geskryf word, ’n vrou vêr bo korale. Mag jou toekoms geseënd wees met goeie gesondheid, vreugde, mooi musiek en nog baie gesonde kilometers op die lewenspad.

Marie van Nierop