NUUS

Joe Slovo gemeenskapskerk voltooi

Drome word waar!

Ongeveer 10 jaar gelede het ‘n versoek by die Sendingbediening van Mosselbaai NG Moedergemeente beland, waarin ‘n groep van 13 geestelike leiers van huiskerkies in die Joe Slovo-woonbuurt in Mosselbaai pleit vir ‘n kerkgebou. Op kort termyn is klere, komberse en voedsel aan die leiers oorhandig. Op mediumtermyn is honderde Bybels in Xhosa en Engels voorsien.

Indringende samesprekinge oor langtermyn betrokkenheid is met mekaar gevoer.  Tallose gebede vir die voorgenome samewerking het opgegaan. Daar is ooreengekom dat die Moedergemeente die klein huiskerkies sal bystaan met beplanning, wettiese en tegniese aspekte in verband met kerkbou en dat die inwoners van Joe Slovo self die fisieke take sal uitvoer. Daar is ook eenparig ooreengekom dat die skoling van kerkleiers van die uiterste belang is.

Roux Meyer, destydse voorsitter van die Sendingbediening, het vir vyf jaar as fasiliteerder opgetree en die geestelike leiers bygestaan met die kursus van die Nehemia Bybelinstituut. Sewe leiers het die kursus voltooi en op 9 Augustus 2015 het hulle hul sertifikate by die Moedergemeente ontvang. Vyf het met onderskeiding geslaag.

Intussen het ‘n lidmaat van die Moedergemeente die bedrag van R130 000 vir die bou van ‘n kerkie in Joe Slovo geskenk. ’n NPO (non profit organization) is geregistreer sodat geld ingesamel kan word.  Chris Swanepoel, lid van die Sendingbediening en NPO, was behulpsaam met die verkryging en registrasie van ‘n geskikte erf. Die leiers van Joe Slovo het deur pensketse aangedui hoe die kerkgebou moet lyk. Gedurende 2014 is daar met die ywer van ds Henri Meyer ‘n professionele bouspan, hoofsaaklik uit die Moedergemeente, saamgestel – manne wat hulle gawes en talente kosteloos aangebied het. Chris Swanepoel het as projekleier opgetree. ‘n Unieke ontwerp wat kulture integreer, is in Maart 2015 deur die Munisipaliteit goedgekeur. Op 15 Augustus 2015, op ‘n oggend toe die son  sy goue strale oor die see  laat skyn het,  is die fondasie van die kerkie deur van die pastore en hul helpers self gegooi. 

Sedertdien is daar gewoel en gewerskaf : soms het die bouwerk met rasse skrede gevorder en soms het finansies geknel of was daar oponthoude en dan het die werk stil gestaan. Daarom was dit ‘n groot vreugde toe hierdie gemeenskapskerk voltooi is en op Sondag, 9 Desember aan die geestelike leiers van 13 gemeenskapskerkies van Joe Slovo oorhandig is. Tydens die plegtigheid wat deur betrokkenes van die Moedergemeente , sowel as lidmate van die omgewing bygewoon is, het een van  die geestelike leiers, Witness Buda, die woord gevoer. ‘n Kanselbybel, wat deur ‘n lidmaat van die Moedergemeente geskenk is, is aan hom oorhandig en ds Henri Meyer het die wens uitgespreek dat hierdie kerkie gebruik sal word om vele siele na Jesus te lei.

Die kerkie kort nog banke en ‘n preekstoel, maar die feit dat die bouwerk nou voltooi is, is ‘n wonderlike bewys van samewerking en hoe mense hul talente gedeel het. Die Moedergemeente is baie dank verskuldig aan vele mense wat finansieel bygedra het om hierdie projek te voltooi. Daar was spesiale pogings met stap en fietstrap om borge hiervoor te verkry. Ander het items soos die dak en vensters geskenk.  Spesiale dank gaan aan die argitek, Francois van Zyl wat van begin tot end aan boord was en ‘n onskatbare bydrae gelewer het. Dank aan Sam Bendle wat die skakel met die Munisipaliteit was, Chris Swanepoel wat hom oor jare onvermoeid beywer het om sy droom van ‘n kerkie te bewaarheid, Roux Meyer wat die geestelike leiers oor jare met hul opleiding gehelp en die seën op sy arbeid gesien het, en Eric Loubser, wat gedurende die laaste twee jaar tydens die afhandelingsfase die voltooiing en afronding van die gebou gedryf het. Trouens, elkeen wat op een of ander wyse tot  hierdie projek bygedra het, verdien groot dank. Mag daar veel vrug op die werk rus wat hier gedoen gaan word.

Marie van Nierop