GEMEENTE BLOG
IN VERWONDERING
Ek het in ‘n vorige blog geskryf oor ons reis na Gauteng en my verwondering oor die sneeu op die berge en die Gideon Bybel in Kimberley. Op pad terug vat ons toe ‘n lang draai om een dag, ‘n dag van VERWONDERING in Nieuwoudville en blommewêreld te geniet. WOW of “amazing” is mos maniere waarop ons dit vandag sê. Ek sluit twee foto’s by die opmerkings in – die een net buite Nieuwoudville v.d. windpomp omring deur blomme en blomme. Die ding is: jy moet stop, kyk en weer kyk, na die groter prentjie en die fyn detail van elke blom. Dan kan jy nie anders as om in verwondering te wees nie – oor die skoonheid van die natuur en oor die wonderlike Skeppergod.
Net ‘n Sondagmiddag draai na Gouritzmond se wêreld bring ons by die uitbundige kleure van die speldekussings wat die lente in ons wêreld aankondig en sê: God vind plesier in verskeidenheid en verrassende veelkleurigheid.
Ek dink aan Psalm 8 wat na die skepping verwys en sê: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.”
En gaan lees bietjie weer Psalm 104 wat vertel hoe God reën gee en vir plant en dier sorg en dan in vers 24 uitroep: “U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.”
Ons gaan dié Sondag 13 Sep met eredienste begin en dis goed so. Maar dalk moet ons tog nie die vele plekke waar God iets van Sy skoonheid en wysheid wys, mis nie, moet ons stilhou, kyk en die vreugde van verwondering geniet! GvD
‘N SKOON BLADSY
“Mag jy ‘n wonderlike jaar hê, die beste nóg, en hope seën vir jou!” sê ek vanoggend vir ‘n beste vriend wat vandag verjaar – oor ‘n telefoon. Ek sou darem bitter graag eerder saam hom wou kuier vandag. Vriendskappe is vir ons almal baie belangrik op jou lewensbladsy.
Stadig maar seker is dinge weer besig om te normaliseer – en ja, ek praat van die “ou” manier van dinge doen as normaal, en bly deesdae doelbewus weg van lockdown woordeskat soos “nuwe normaal”. Ek soek (weer) kontak met mense. Ek wil (weer) in ‘n kerkdiens gaan sit. Ek wil (weer) goeie koffie saam ‘n vriend deel en vir mekaar se voorspelbare grappe lag rondom ‘n glas wyn en mekaar omhels as ons verjaarsdag vier.
Ek is nie een van die mense wat sou sê die Here het die virus gestuur nie. Ek glo eerder dat dit deel is van die gebroke wêreld waarin ons leef (te danke aan Adam, Eva en hulle mannewales in die Tuin van Eden), maar dat God die God is van alles, en dit beteken ook dat Hy die God is van alles wat gebreek is. Die Bybel leer ons mos dat God deur Jesus juis spesialiseer daarin om gebreekte dinge te omskep in iets bruikbaar en nie summier weg te gooi nie (dis nou mysélf waarvan ek praat).
Soms dink ek die virus het gemaak dat ons ‘n kans het om ‘n nuwe blaadjie oop te slaan. Ek dink ek het iets by die lockdown en virus geleer in my gr. 1 dogtertjie. Talentvolle kind met oor-entoesiastiese ouers wat haar op 7 al laat swem, ballet, netbal, hokkie, musiek en tennis speel. Gooi dit saam met skool en huiswerk en tuisonderrig op dae wat sy nie fisies skool toe gaan nie, en jy sit met ‘n stampvol dag vir haar, netjies uitgewerk.
Maar nou lê haar skoon post-lockdown bladsy oop hier voor my, dinge normaliseer weer en ons ouers moet besluit wat ons nou daarop gaan (laat) skrywe. En ek besef dat dit nie nodig is om die bladsy weer so te loop vol krap nie – dit geld natuurlik nie net vir haar nie, maar ook vir mý post-lockdown bladsy.
Dis tyd vir heroorweging. Wie is die mense se name wat ek op my bladsy gaan neerskryf, of dalk eerder, wie is die mense wat ek gaan toelaat om op my bladsy te skryf? Was daar giftige situasies en mense voorheen daarop? Hoe ver van bo af gaan ek my werk neerskryf? Waar skryf ek God neer, of is Hy al so diep in my lewe ingeweef dat al my verhoudings en werk elkgeval van Hom getuig?
Dalk is jou skoon bladsy ook ‘n geleentheid om dinge wat voorheen nie reg was nie, nou eers reg te maak voor ons verder skryf, los te maak van die verlede, op te kyk, en met durf vorentoe te gaan.
Mag God my en jou lei om die geleenthede wat nou voor ons lê, met groot wysheid ‘n kans te gee om te ontspring op die onmeetlike omvang van Sy liefde, alles binne die wit van jou skoongewaste lewe.
Fil. 3:12-13 “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”
DIE WOORD GEE LEWE
Ons is op pad na Johannesburg hier in Kimberley in ‘n gastehuis en wat lê op die bedkassie? Reg geraai – ‘n Gideon bybel. Ek wonder hoeveel mense se lewens is totaal verander omdat hulle Christus gevind het deur so ‘n Bybel.
Op 23 Aug 2020 vier die Bybelgenootskap hulle 200ste verjaarsdag in SA. Die eerste volledige Bybel in ‘n Afrika taal was die Setswana bybel in 1857, gevolg deur isiXhosa in 1859 en uiteindelik die 1ste Bybel in Afrikaans in 1933. Ek het groot geword met ‘n 1953 vertaling, maar die 1983 vertaling is eintlik maar die “God se stem” vir my. Na ‘n proses van 20 jaar kry ons in Nov 2020 die nuwe Direkte Afrikaanse vertaling. Ek kan nie wag nie!
Ek en Irma het mekaar op die PUK (nou NWU) raak geleef. Die PUK se leuse was: “In U lig sien ons die lig” (Ps 36:10 OAV). Die ’83 vertaling lees: “U is die bron van die lewe, deur U lig lewe ons.” Dit bly ‘n belangrike lewensmotto vir ons twee.
Vandag op pad na Kimberley kyk ons met verwondering na die sneeu-kombers oor die Outenikwa berge, en deur die Meiringspoort na die wit bedekte Swartberge. Ek dink aan Psalm 19 wat sê dat God Homself ook openbaar deur die skepping. Maar van vers 8 af besing die Psalm egter die Woord. Die Woord gee o.a. “lewe, wysheid, en blydskap”. Daarom is dit kosbaar soos goud, en so soet soos heuning.
Ek wil saam met jou wonder oor die volgende: hoe sou mens die voorreg van ‘n Bybel in Afrikaans kan vier? In watter Bybel vertaling hoor ek God die duidelikste in my hart in praat? Watter tyd en plek is my “afspraak met God”? En as jou Bybel dalk stof opgaar, probeer bietjie die gemak van verskeie vertalings deur die App van die YouVersion by www.bible.com af te laai, waar jy elke dag jou “vers vir die dag” of meer kan lees. Proe die soet-heuning-smaak van God se woord vir my en jou.
Dr Gerrie van Deventer
ONS IS DIE LIG
Kyk net die mooi foto van ons Klipkerk in Mosselbaai. Elke Sondag oggend ry ek daar verby en my hart bloei. “Wanneer gaan ons weer kerk hou?” Ek hou nie meer van Sondae nie. Ek mis my mense, ek mis om te sing, ek mis die woord, ek mis die koffie, ek mis die kinders, ek mis kerk…
Corona, Corona, Corona…
Is ek miskien die enigste een? As die kerk more sy deure toemaak sal iemand dit agterkom? Is kerk belangrik? Gaan mense terugkom kerk toe?
Ja, mense gaan terugkom. Ja, Kerk is belangrik. Hoekom? Wel in die eerste plek, want dis nie my kerk nie. Dis God se kerk. Hy hou sy kerk in stand. Dis Sy werk! Hy is in beheer, Hy het dit geskep, dit gaan oor Hom.
Jesus sê: 14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie… (Mt 5:14)
As ek hierdie vers reg bekyk dan is dit nie ‘n keuse ding nie. Ons ís die lig. Ons is soos ‘n stad op ‘n berg. Ons is die kerk. Ons kan nie weggesteek word nie. Die wêreld sien ons. Die wêreld kyk op na ons. Ons weerkaats God se lig. Ons maak ‘n verskil, want God het van ons lig gemaak. Ons is daar, in your face; dit kan nie anders nie. Ons is ‘n stad op ‘n berg!
“Jesus, mag ek nooit ‘n flou lig wees nie. Mag die kerk waarvan ek deel is, soos ‘n baie sterk Spotlight wees. Soos ‘n stad op ‘n berg, wat nie misgekyk kan word nie. Here gebruik ons. Help dat ons flavour aan die wêreld sal gee, soos sout. Dis is U kerk Here, ons wil U verheerlik. Gee dat ons weer sal oopmaak. Maar, eintlik was ons nog nooit toe nie…”
TARENTAAL
Die drang om te oorleef is sterk.
Wat sal ons nie alles doen om vir ons of vir ons kinders ‘n dag van môre te verseker nie? In vandag se terme is die gedagte moeilik om te verwoord wat ek wil sê, want waarheen en hoe gemaak met my geldjies wat ek van moet oorleef as ek en jy nie vir 2020 beplan het om juis só uit te draai nie? Gister net sê die ekonoom in ‘n onderhoud op die radio dat inflasie die laaste drie maande op is na oor 10%.
Dis die gedagte van môre wat my wakker hou tot in die stil na-nag. Dis in ons natuur om te beplan vir môre – trouens, eintlik verantwoordelik, redeneer ek met myself. Dit alles terwyl ek luister hoe ‘n naguiltjie roep en iets (seker ‘n kat) die tarentale in die veld laat alarm maak. Die klanke neem my op ‘n verbeeldingstog ver van die aanhoudende bekommer oor vannag en môre.
Iewers op kweekskool het ek klas gehad by Stephan Joubert – wat ‘n ervaring! Ek kan nog in my verbeelding sien hoe hy voor in die klas gemasjeer en verduidelik het hoe vandag se gelowiges toekoms toe stap, met ons gesigte reg na voor, gefokus om die probleme vroegtydig te identifiseer, analiseer en oplossings te bied, sodat ons die probleme (hopelik) kan systap.
Maar wat van die probleme wat ons kan sien aankom, maar nie een mens in die wêreld dit kan systap nie?
En toe, soos ‘n geoefende soldaat, gooi Stephan sy masjeer in trurat en begin agteruit stap. “En dis hoe die gelowiges in die Bybel die toekoms ingestap het” verduidelik hy. Ook aan die beweeg, maar die keer in blinde geloof die toekoms in en die gesig gedraai na gister – die keer nie gefokus op die probleem nie, maar op al die kere in die verlede waar jy God se hand duidelik sien beweeg het en Hom onmiskenbaar naby ervaar het.
Die tarentale se hulpkrete in die stikdonker nag, herinner my aan myself. Ek laat ook van myself en my probleme hoor as ek benoud raak met onbekende donker om my. Soms word ek bewus dat ek ‘n wag voor my mond moet sit in geselskap, voor ek die arme, gewillige luisteraar toegooi met my gekla en hulle goeie geselskap laat opdroog.
Vandag deel ek my hartsverse uit die Bybel met jou. Dit het my al deur nagdiep donker gedra. Dis die vers wat my laat besef dat ek juis geneig is om paniekerig die toekoms in te staar, op totaal die verkeerde goed gefokus. My fokus moet op die Koninkryk wees waarvoor God my geroep het om te werk, en te onthou hoe getrou Hy al my hele lewe lank was.
LUKAS 12:22-34 AFR83
Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge? “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
REFLEKSIE TYD
Covid19 kom nader, té naby! My seun is positief gediagnoseer en ek het pas met twee mense gesels wat dit nou oorleef het. Een van my vriende het die volgende aanhaling oor ons sterflikheid en kosbare lewe geplaas…
”Every minute someone leaves this world behind.
We are all in “the line” without knowing it.
We never know how many people are before us.
We can not move to the back of the line.
We can not step out of the line.
We can not avoid the line.
So while we wait in line –
Make moments count.
Make priorities.
Make the time.
Make your gifts known.
Make a nobody feel like a somebody.
Make your voice heard.
Make the small things big.
Make someone smile.
Make the change.
Make love.
Make up.
Make peace.
Make sure to tell your people they are loved.
Make sure to have no regrets.
Make sure you are ready.”
Sokrates het gesê: “An unexamined life is not worth living”. Vir hom is nadink oor die lewe – waardes, waarheid, regverdigheid ens – en gesprek daaroor die manier waarop die lewe ryker word.
Ek wil graag meer REFLEKSIE tyd skep. Tyd om na te dink, te evalueer. Die inperking-tyd help ons dalk daarmee. Soms het ons digters en profete nodig – soos Dana Snyman en Wilhelm Jordaan – om ons daarmee te help.
Ek wonder: hoe kan ‘n gewone ou dit self doen? Wel, dalk net stilword vir 5 minute elke dag. Miskien kan jy ‘n joernaal begin. Of dalk die Daily Examin of Daaglikse ondersoek begin doen (google dit gerus).
Psalm 139:23-24: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad”.
So word refleksie eintlik veel meer, dit word ‘n ruimte waar God self my hart en oë oopmaak om my lewe, gesindheid, my godsdiens en prioriteite, kortom alles, te ondersoek en te evalueer. Dis dalk ‘n manier om Paulus se opdrag uit te voer: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid… probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” (Ef 5:16).
Ons Vader sorg
Ontmoet vir Frilly. ‘n Kanarie van die Frilly weergawe. Sy veertjies is bietjie gekrul. Hy is beautiful vir my. Sy toontjies is soooo klein. Hy is soooo broos. Hy weeg omtrent niks. Toe ek hom in sy boksie van die petshop af huistoe bring; voel dit of daar niks in die boksie is nie. Ek dink hy is van porselein gemaak.
Dit het my laat dink aan die Bybel. Ons Vader sorg vir hierdie klein brose voëltjie. Nie eers te sê die klompie wat buite in die koue bly nie. Ek het Sondag net voor Kroonstad -8 grade gemeet in my kar. (Het by my ouers in Pretoria gaan kuier. Gaan ma broos daar). -8 Grade?! Ek weet nie of ek dit sal oorleef nie.
Dit het my weer laat besef. Hou op worry tjom… Jou Vader sal vir jou sorg. Hy sal ook sorg vir almal wat naby aan jou is oor wie jy so baie worry. Jou Vader is in beheer. Nie Corona of politieke leiers of wie of wat ookal nie.
En! As ek in Jesus glo. Sal ek ewig lewe al sterwe ek ook….
“26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Matteus 6:26 (AFR1983)
Wintervuur
Dis asof hierdie jaar se winter my wrintiewaar dieper koud maak as ander jare, tot in die been. Die weerman sê ons Kapenaars moet juis vashou, hier is ‘n groot koue en verspreide sneeu oppad. Ek kyk na die voorspelling en daar iewers oor die oseaan lê die front geteken soos ‘n haai se bek – kompleet met klomp lang tande: geslyp, oorgehaal om die punt van Afrika te verober die naweek. Onthou ek net verkeerd, of het ons hierdie jaar al meer sneeu gesien as ander jare? Of kry mens net kouer soos jy ouer raak?
“Ons lê maar met die warmkombers aan as dit so koud raak dat jy net ons neuse sien uitsteek, julle is gelukkig genoeg om die kaggel te kan aansteek,” sê my pa toe ek laasweek met hom praat. Die kaggel het sy eie gerusstellende bekoring wat hy gesels met warm knetter in ons leefvertrek op ‘n koue dag – die vlamme gereed om enige persoon se koue met warm lekke geselskap te hou tot laatnag.
Soms ly ek ook maar aan slegte slaap (kom dit nie ook met ouderdom nie?!). Dan maak die vroegoggend aansteek van die kaggel dat ek eensklaps voel of ek en my Skepper sommer direkte, vol sinne met mekaar kan praat terwyl die res van die huis nog rustig is. Dis asof die kaggelvuurtjie dán meer koue beveg in my siel, as net die koue op my vel.
Die Emmausgangers het ook aan koue gely – hartkoue. Dis amper ondenkbaar dat twee reisigers op ‘n stowwerige pad in die woestyn met ‘n hitte spieëlbeeld op die horison, juis kies om hulle onvermoë om Jesus te herken, beskryf as hartkoue. Hulle lê ‘n hele reis van 12km af saam met Jesus vanaf Jerusalem, deel nogal wat hulle ervaar het die laaste paar dae met hulle Reisgenoot. Maar iewers tussen die gepraat, bly dit vasgeval in gesprek oor die realiteit van hulle koue.
Maar dan breek Jesus vir hulle brood – dis mos simbool van Jesus se liggaam. Hulle oë gaan meteens oop en die Lig van Jesus skyn warm verby hulle chaos en argumente wat verstringel is in koue woorde. Die warm Lig skyn dat hulle koue harte kan sien dat Hy al die tyd nog saam met hulle gestap het op hulle hart se koue pad – al 12km. En as hulle besef dat dit werklik Hy is wat alpad saam met hulle was, verskuil Jesus hom weer dat hulle Hom nie kan sien nie.
Dié keer is dit egter anders. Dié keer hardloop hulle met uitbundige vreugde terug Jerusalem toe om die res te gaan vertel dat Jesus nou saam met hulle stap, al sien hulle Hom nie – Hy leef!
Miskien moet ek bietjie meer kere ‘n vuurtjie aansteek om te herinner dat Hy nou hier by my is. Maar dalk is my grootste uitdaging om wel ook vuurtjies aan te steek op die plekke, die verhoudings, die hartkamers of wie weet waar nog oral waar ysige argumente en idees blaas soos stormsterk winterwinde in die Kaap.
Luk 24:31-34 “Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
‘n Bergreis
Ons moes die inperking breek. En wat is beter as om die pad te vat. Op pad na die Karoo nasionale park verwonder ons ons weer aan Meiringspoort se plooiingsgebergtes. ‘n Witkruisarend vlieg met sy pragtige wit kruis sigbaar in die skeur van die Nuweveldberge en laat ons na ons asems snak. Maar dis die terugreis en die asemrowende uitsig in die Swartbergpas wat ons stom laat oor ons kleinheid en Sy grootheid.
Dit laat my toe dink aan Ps 121:1-2 “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
Ek dink aan Koos vd Merwe se gedig “Alom”
immer oral, altyd u
ver en naby, alom u
u in die hoog, en u in die ver
u in die skyn van die verste ster
u in die naby, u in die nou
u in die oomblik wat hier ontvou
immer oral, altyd u
ver en naby, alom u
Gerrie van Deventer
Dis moeilik om uit Lockdown te kom…
Hoekom is dit so moeilik om uit lockdown te kom. Ons smag dan al so lank daarna. En nou, nou dat ons kan uitkom, nou sukkel ons. Hoekom?
Daar is so baie onsekerhede. As ek nou weer na ’n restaurant kan gaan, hoe gaan dit dan werk? Gaan ek met my masker aan moet eet? Kan mos nie. Ag nee wat; ek bly maar eerder by die huis. Dis makliker, en dan, dan stel ek nie myself en ook nie ander mense bloot nie. Wat van die arme kinders in die skool, hulle moet die heeldag met maskers aan sit by die skool. En dan, dan sê hulle as jy bo sestig is, dan is dinge eers moeilik vir jou. Ek vat maar eerder nie kanse nie.
Onsekerhede is besig om ons lewe te regeer. Onsekerhede, maak allerhande vrese in ons wakker. Wat van dit en wat van dat? Ek wil so graag hê ons moet weer begin kerk hou, maar daar is so baie onsekerhede. Gaan ons nie die mense blootstel aan die virus nie. Sê nou net ek maak iemand siek. Of miskien kom ek nie al die reëls presies na nie en dan stop die polisie ’n reuse boete in my hand. Ek hoor jy kan selfs tronk toe gaan.
Dit laat my dink. Waarvan is ek nou eintlik seker? Op hierdie aarde is daar maar min. Maar, van een ding is ek baie seker. God is in beheer. Ek gaan by Hom in die hemel wees eendag. Niks kan my van sy liefde skei nie. Hy is my Herder. Hy sal my lei.
Miskien moet ons op hierdie sekerhede fokus. Die “wat asse” van die lewe, sal my klaarmaak.
Vader, ek is soooo seker van U liefde, vir my en almal rondom my. Vader my lewe en die lewens van my geliefde gemeente is mos in U hande. U sê mos in Psalm 23 “in U hande is ek veilig…”. Vader help my om op die sekerheid van U teenwoordigheid in my lewe te fokus. En nie op die “wat asse” van hierdie lewe nie…
Onvergenoeg
Vandag is dit al 85 dae vandat ons almal gehoorsaam aan ons president se pleidooi onsself toegesluit het. “Social distancing” het hulle dit genoem – maar ek besef dat die skep van afstand, nie net tussen jou en vriende/familie was nie. Daar is ‘n klomp goed in myself wat ek ook van moes afstand neem, met spyt. En in dié se plek het nuwe goed deel van die dag en week se ritme gekom – gedwonge.
Ek onthou vir ‘n oomblik die lewe drie maande terug. Waag ek sê dit was darem baie makliker tóé as nóú?
Aanvanklik het ek mos gedink die digitale wêreld is wonderlik! Vergaderings uit die gemak van jou eie huis (soms net ‘n ongemaklike hemp en baadjie bo aan, met jou slaapbroek en pantoffels onder wat jou lyf met bekendheid sagkens omkleef), mense sien mos net wat jy wil hê hulle moet sien op ‘n skerm. Almal spog oor hoe doeltreffend die digitale wêreld hulle vergaderings en kantoor opset gemaak het. Geld is immers tyd.
Ek wonder maar sterk of ons romantisering daarvan nie maar net ons Suid-Afrikaners se oorlewingsmeganisme was nie, dalk die wêreld s’n, wie weet?
Want iewers in my is daar ‘n gemis wat al hoe groter raak. Dis ‘n bok in ‘n strik wat al hoe wilder spartel, en hoe wilder die spartel, hoe meer verstringel gedagtes en sny die werklikheid deur vel, spier en sening tot teen die been – die werklikheid van wie ek is. “Ons is tropdiere”, sê my kollega altyd. Ons bly binne-in verhoudings – dis die been, die geraamte, wat my siel aanmekaar hou – en dit kan geen skerm, niks Zoom, WhatsApp of YouTube-kerk regkry nie.
Dis wie ek is: ‘n mense-mens. En nou sit die mense-mens heeldag agter ‘n skerm. Onvergenoeg.
Reg, ek sou die besigheidswêreld gelyk gee dat skerms tyd koop. Maar dit steel my verhoudings, en daarom steel dit my vreugde, en daarom steel dit ook my lewenssin. Skerms het ons verhoudingshonger gelos, nie meer doeltreffend gemaak nie.
My gedagtes dwaal na God toe. Hoe sou Hy voel oor mense wat doelbewus die verhouding met Hom opbreek? Los dit Hom ook verhoudingshonger … Hom ook dalk onvergenoeg?
Dalk is daar baie groter sin daarin om aandag aan my verhouding met God te gee. Hy het nog altyd ook vir my lewenssin gegee, dit op my laat reën met Sy Gees as droogte my siel uitput.
“6Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug.” Psalm 62:6-9
WAT IS NOODSAAKLIK?
Wat het ek/’n mens nodig? Dis die vraag waaroor ek wonder toe ek die “Kosboks” in die Spar sien. ‘n Boks waarin mense oor die laaste paar weke soveel “nie-bederfbare-produkte” soos meel, rys, blikkies bone, vis en vele meer gedeponeer het. Kospakkies is opgemaak sodat baie gesinne wat nie “kos” op die tafel gehad het nie, kos kon kry. Ek kyk na die ry kinders wat by Sanet se sopkombuis staan met ‘n bakkie in die hand en wonder: wat sou hulle nog nodig hê?
Die woord “essential services” is op baie maniere vertolk in die afgelope 76 dae. Dit het veral te doen gehad met mense se behoeftes aan gesondheid en aan kos né! Mettertyd het dit tog begin deurskemer dat mense ook ander “noodsaaklike behoeftes” het. Mense het behoefte aan mekaar, geselskap, aanraking, liefde. Mense het sosiale behoeftes, het behoefte aan werk en inkomste, aan ‘n gevoel van waarde en betekenis. Maslow het gesê ‘n mens het die volgende behoeftes: fisiologiese behoeftes (gesondheid, kos, slaap), veiligheid, om te behoort (liefde, affeksie, aanvaarding), erkenning en selfaktualisering.
Ek het gehoor van mense wat alleen in intensief moes lê sonder kontak met familie en nog erger – van mense wat in eensaamheid in ‘n hospitaal moes sterf en gewonder: was fisiologiese versorging al wat hulle toe nodig gehad het?
En toe sê die president op 27 Mei dat godsdiens en die kerk tog deel van die noodsaaklike dienste is, noodsaaklike pastorale sorg verleen, mense ondersteun en in krisisse help ens.
Toe dink ek aan Jesus se woorde: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat 4:4) en veral Sy stelling “Ek is die brood wat lewe gee” (Joh 6:35). Ons moet dus weer dink oor die vraag: Wat het ‘n mens regtig nodig?